EXORCIST: THE BEGINNING

Dis die vooraf-storie van THE EXORCIST en ja, ‘n mens ril en gril en gil en jil… omdat die fliek so swak is. John Frankenheimer sou dit eers gemaak het, maar is dood voor hy kon begin skiet. Toe neem Paul Schrader die leisels oor maar is ontslaan omdat die fliek, na die ateljee se sin, so swak was. Toe kry hulle Renny Harlin om ‘n nog gruweliker weergawe te maak. Die eindproduk is grillerig vanweë sy grieselrige swak gehalte. Ja, mens word bang, maar dit is net ‘n aaneenskakeling van grieseltonele sonder veel van ‘n storie. En die rolprent het reeds protes veroorsaak omdat dit ‘n onderstebo-kruis op sy plakkate aangebring het. Ek sou beslis nie my tyd, senuwees of morele waardes op EXORCIST: THE BEGINNING mors nie. Dit sal jou net ontstig. 3 uit 10. Dit dra ‘n streng beperking van 18… en kan veral op godsdiensterrein aanstoot gee.