FINAL DESTINATION 3

Laastens begin ‘n riller vandag: FINAL DESTINATION 3. Onthou julle die eerste twee FINAL DESTINATIONS? Daarin het ‘n ongelukkige siel in die toekoms ingekyk en gesien hoe die vliegtuig waarop hy is, neerstort en almal sterf. En hoe die pad waarop hulle ry in ‘n slagveld verander as gevolg van ‘n grusame ongeluk. In die derde aflewering klim luidrugtige tieners op ‘n roller coaster. Dan kry een van die meisies ‘n voorbode dat die trein sy spore gaan byster raak en sy probeer haar vriende oortuig om af te klim. Maar sy kon net sowel teen die wind genies het. Feitlik niemand luister nie.

FINAL DESTINATION is vir tieners. Juis daarom dat hierdie week se flieks aan elke smaak voldoen. As jy nie lus of geld het vir die ander flieks nie, en jy’s jonk van gees en lus vir gruwelike pret, is FINAL DESTINATION vir jou. Die karakters is aaklig. En ek weet dis polities verkeerd om te sê, maar die meeste van hulle verdien wat hulle kry OMDAT hulle so verwaand, selfsugtig en bedorwe is. Maar dan kom die kinkel in die kabel wat die ander rolprente so ‘n bloedige pretparkrit gemaak het. As jou tyd daar is, is hy daar. En maak nie saak hoeveel voorbodes jou waarsku nie, die man met die sens sal jou uiteindelik kry, sê FINAL DESTINATION 3.