FIREWALL

Ek moet van die begin af sê dat FIREWALL vir my lagwekkend naïef en geforseerd was. Maar dis ek. As jy genoeg deur Basic Instinct geterg is en jy wil sien hoe ‘n MAN sake doen, is FIREWALL vir jou.

Harrison Ford speel die rol van ‘n rekenaargeletterde man wat die volmaakte sisteem ontwerp het om diewe uit sy bank te hou. Maar soos ons weet, baie rooftogte word uit die binnekringe uitgevoer. Dit weet ‘n gewetenlose psigopaat, gespeel deur Paul Bettany ook wanneer hy Harrison se gesin ontvoer. “As jy my nie die geheime kode gee nie, vermoor ek hulle een na die ander,” dreig hy. Wat kan ‘n man doen? As dit Harrison Ford is, doen hy dit anders as Sylvester Stallone. Hy trek nie sy hemp uit nie, mens kan uitmaak wat hy sê en hy slaan geen kakebene af nie.

FIREWALL is eintlik ‘n fliek vir DVD. Dis vermaaklik maar ongelooflik naïef en geforseerd. Mens lag soms kliphard vir Hollywood se glansryke leuens. Daar is ‘n hond in die storie, en sodra ‘n mens vir Brutus sien weet jy: hy gaan deel wees van die storie. Maar GAAN HY OORLEEF? Ek dink jy ken die antwoord. FIREWALL is vir aksievrate.