FLIGHT OF THE PHOENIX

Terwyl die kleingoed hulle verlustig in Pooh se mannewales kan jy FLIGHT OF THE PHOENIX kies – ‘n nuwe weergawe van die 1965-treffer. Maar o wee, dalk sal jy liewer wens jy hét na HEFFALUMP gaan kyk, want dis maar ‘n wansgeskape fliek. Alles is oordoen. As ‘n ou macho is soos Dennis Quaid brom hy in so ‘n diep stem, mens kan nie hoor wat hy sê nie. Dit gaan oor ‘n groep mense wat in die middel van die woestyn neerstort en moet oorleef. Niemand weet waar hulle is nie. Sal hulle dit maak?

Die vliegtuigongeluk en ‘n sandstorm, wat in Namibië verfilm is, is puik – dus kan jy daarvoor gaan kyk. Die probleem is die res van die fliek is so onwaarskynlik en oordoen soos ‘n troukoek wat met ‘n hyskraan gelig word. Giovanni Ribisi is ‘n eksentrieke paloeka wat die stukkende vliegtuig regmaak. Gaan kyk net na FLIGHT OF THE PHOENIX as dit langs ‘n kinderfliek wys en jy’s nie lus om die gillende menigte te trotseer nie! Taalgebruik kan mense aanstoot gee.