FLIGHTPLAN

Jy gryp jou sitplek krampagtig vas en maak jou oë toe. Jy voel die kragtige motore onder jou. Jou hart spring in jou keel en jy kan nie asem kry nie… jou maag draai woes en die sweet begin jou aftap. Dit terwyl almal om jou rustig na musiek luister of tydskrifte en lees. Min mense ly aan vlugvrees, maar as dit jou die dag beetpak, kan dit jou verlam.

Nie dat FLIGHT PLAN oor vlugvrees handel nie. Maar dis die tweede fliek binne 2 maande wat ‘n vliegtuig gebruik as ‘n gevangenis waar ‘n klomp mense saamgehok is wat erg op mekaar se senuwees kan werk. Tot so ‘n mate dat iemand kan sterf.

FLIGHT PLAN spog met JODIE FOSTER in die hoofrol. En as JODIE haar naam agter ‘n rolprent skryf kan jy maar weet: dis knap en sal jou nie maklik teleurstel nie. FLIGHT PLAN is ‘n kruis tussen RED EYE en PANIC ROOM, want enige ouer se ergste nagmerries word waar. ‘n Vrou verloor haar man in die buiteland gedurende ‘n ongeluk op ‘n bouperseel. Sy vergesel sy lyk op ‘n vlug na Amerika saam met haar dogtertjie. Gedurende die vlug raak sy aan die slaap. Wanneer sy wakker word, is haar dogtertjie skoonveld. Niemand het die kind gesien nie. Wat het van haar geword? En as julle gedink het dis maklik om ‘n kind op ‘n vol vlug te vind, gaan kyk na FLIGHT PLAN. Dis nie naastenby so maklik soos jy dink nie.

FLIGHT PLAN is ‘n naelbyt-riller vol drama, angs, paranoia, vrees en aksie. Dit volg die Hitchcock-resep van iemand wat in ‘n paniekbevange situasie beland en niemand wil hom of haar glo nie. FLIGHT PLAN, alhoewel in die werklike lewe dalk nie so realisties of moontlik nie, sal jou handpalms in ‘n angssweet laat uitbars. Ek beveel dit sterk aan as ‘n riller wat jou aandag vir 2 ure lank sal kaap. FLIGHT PLAN is beslis jou R35 werd. Terloops, die Amerikaanse lugrederye was baie vies vir die fliek omdat hulle vlugpersoneel as so onhulpvaardig en onvriendelik uitgebeeld het.