Ghosted (Showmax)

Ghosted (Showmax)

Kykers wil mos graag na mooi mense kyk wat in penaries beland en sug: “Aitsta, sy is darem mooier as ‘n mens, hoor!” Hulle verwys na die beeldskone Ana de Armas wat in Knives Out gespeel het. Dié resensie gaan probeer om so min as moontlik oor die storie te verklap, behalwe om te sê: ‘n plaasboer ontmoet ‘n meisie by ‘n mark en hulle raak verlief. Ná ‘n woeps-waps-aandjie, verdwyn sy en antwoord nie sy WhatsApps nie, vandaar die titel. Hoe het ouma altyd gesê: “My kind, as dit blyk te goed om waar te wees, is dit te goed om waar te wees.” Van hier af spat parfuum, plaasimplemente en kompos in vier windrigtings.

Die storie is te oordrewe, selfs vir Hollywood. Ná die eerste jaagtog mag jy handdoek ingooi. Maar wag, dit raak erger. Die slotsom? GHOSTED probeer te veel dinge vir te veel mense wees, raak die kluts kwyt, en ‘n lekker storie tref ‘n slaggat dieper as daardie een naby jou huis waaruit jy kan visvang. GHOSTED is ‘n teleurstelling, en verveel gou met sy eenselwige aksie.