Heist (Reeks)

Heist (Reeks)

HEIST is eintlik komies op ‘n donker manier as mens ‘n geplunder as komies kan beskryf. Die rooftogte wat in hierdie reeks uitgevoer word, is soms so lagwekkend domastrant, dat mens grinnik en met ‘n uittandbekkie grynslag, maar nooit kan hardop lag nie.

‘n Sjarmeerder wat ‘n vrou met sy persoonlikheid verlei om die swartskaap in ‘n gewaagde roof te wees, is boosaardig slu. Dan is daar twee episodes wat handel oor Kubane wat R1,5-miljard tjop-tjop op ‘n Sondagmiddag van ‘n vliegtuig af gesteel het, en jy lag jou naeltjie dat hy in die rondte tol.

Dikwels vertel die slagoffers, wat hulle met die gereg misgis het, wat gebeur het. Sommige is trots en skater oor hulle eie vermetelheid. Ander is hartseer en haat die mense wat hulle in die moeilikheid gebring het.

Kyk HEIST as jy tussen ander reekse wil asemskep. Die mense se vermetele waagmoed en astrantheid sal jou verstom.