HOSTAGE

Aan wie laat hierdie beskrywing jou dink? Spiere wat soos ysterkabels span… veral as hy emosioneel raak… oë wat deur die donker priem… ‘n kaal kop wat blink in die maanlig… ‘n help-my-sterk-lyk-hempie wat styf span om sy macho borskas en ‘n grondboontjiebotterstem. En as hy hom aan emosie oorgee, dan bewe die biesies. As jy geraai het Bruce Willis, is jy reg. En dis ook hoe hy in HOSTAGE verskyn. As ‘n woeste polisieman wat deur die lewe getem is, maar nou voor sy grootste uitdaging nóg verskyn.

Bruce speel die rol van ‘n onderhandelaar in HOSTAGE. Tevore het sy onderhandelings gedurende ‘n gyselaarsdrama skeefgeloop… toe trek hy na
‘n stiller dorp waar daar feitlik geen misdaad is nie. Dit gaan so goed daar, hulle het ‘n misdaadvrye Dinsdag. (Ek wou my kaartjie daarheen bespreek, toe sê hulle staan in die tou wat tot in Nieeu Seeland strek.) Maar soos dit in sulke flieks gaan, loop iets JUIS op ‘n Dinsdag skeef… en onse Bruce word gekonfronteer met die moeilikste gyselaarsdrama nog. Die kinkel in hierdie kabel is: sy eie gesin is ook betrokke.

HOSTAGE is ‘n resepgedrewe aksieprent waar alles presies volgens ‘n sekere formule gebeur. Dit voldoen volkome aan die 3-bedryf-struktuur wat Hollywood vervolmaak het en waarmee gehore so tuis voel. Die aksie loop dikker as die testosteroon, die dawerende musiek slaan jou soos voorhamerhoue en die geweld laat die rolprentdoek sidder. Dit het iets van PANIC ROOM sonder David Fincher se geniale aanslag. Hierdie is net ‘n doodgewone fliek vir ouens wat van aksie hou wat jou nie ‘n oomblik los nie. Vir my was dit dieselfde ou storie met dieselfde ou karakters op dieselfde manier vertel. Vir jong laities en studente sal dit ‘n aksiebelaaide pretparkrit wees wat jou vir 1½ uur van die buitewêreld sal vergeet.

HOSTAGE, nie vir fynproewes nie, maar wel vir mense wat net so 2 of 3 maal per jaar gaan fliek en dan seker wil wees wat hulle sien.