HOSTEL

Hy’s hier. Seker die mees grusame en gewelddadige fliek wat ons in jare getref het. Julle sal nog baie van hom hoor, want die woord veelbesproke beskryf NIE die impak wat HOSTEL op gehore gaan hê nie. En ek moet waarsku, al is die beperking net 16, moet jy BAIE goed besin voordat jy gaan. Want dit kan jou vir weke lank van slaghuise afsit.

HOSTEL is ‘n skaamtelose vermenging van eksplisiete seks en oordadige geweld. Dit verander hierdie ervaring in ‘n stuk sado-masochisme wat jou uit jou stoel sal ruk. ‘n Groep wellustige laities toer in ‘n Oos-Europese land. Hulle lees ‘n advertensie waarin ‘n herberg geadverteer word waar die ouens sommer in dieselfde kamer as ‘n groep mooi meisies kan slaap.

Natuurlik is daar ‘n liederlike vangplek, want die skoonhede lei die seuns na ‘n slaghuis in ‘n verlate hospital waar moorddadige masochiste wag om lewend op hulle te opereer nadat hulle opgekerf is. Besluit maar self of dit jou soort fliek is nadat jy daardie opsomming gehoor het. Die rolprent is skaamteloos sensasioneel en geniet elke pynlike marteling wat SAW na MY FAIR LADY laat lyk. Ek weet nie of gewelddadige flieks verder as HOSTEL kan gaan nie, behalwe om dan ‘n sg. Snuff fliek te word. Die ou wat die hoofrol gespeel het, Jay Hernandez, het erken dat hy vir sielkundige behandeling moes gaan nadat sy marteltonele verfilm is.

Aan die ander kant sal studente en skoliere bo 16, wat al voos is van geweldflieks, bokspring van pure geweldlekkery, want dis die jaar se koelste geweldfliek. Dus sal hulle toustaan daarvoor en opgewonde notas vergelyk oor watter marteling die wreedste bloedlekkergoed vir die oë was. En ja, hulle skryf tans aan die opvolg. HOSTEL. Jy is gewaarsku. En ek dink na die vlaag moorde wat ons land die afgelope maand getref het, wil mens nie nog betaal om daarna te kyk nie…