HUSTLE AND FLOW

Nog ‘n taai fliek is HUSTLE AND FLOW. Omdat ek twyfel of dit in RSG-luisteraars se smaak sal val, ‘n baie kort resensie daaroor. Dit gaan oor ‘n dwelmhandelaar, die Oscar genomineerde Terence Howard, wat ook meisies verkoop aan kliënte. Hy droom daarvan om ‘n rap-kunstenaar te word. Maar sy pad na roem is met moord en doodslag en koel musiek besaai. “It’s hard out there for a pimp”, die temaliedjie, het die Oscar vir beste musiek gewen. Maak geen fout nie, HUSTLE AND FLOW is ‘n goeie fliek, maar dis op ‘n baie beperkte smaak gerig en jy moet ‘n avontuurlike of ernstige fliekganger wees om dit te waardeer. Jy moet ritme in jou tone, adrenalien in jou lyf en elektrisiteit in jou are hê daarvoor. Dis knap, maar jou kop moet oop wees.