King the Land (Reeks / Netflix)

King the Land (Reeks / Netflix)

As jy die titel, KING THE LAND, sien, sal jy seker dadelik reageer en sê dat daar ‘n OF kort. Moenie oorhaastig wees nie. KING THE LAND is ‘n onortodokse, aweregse, vreemde reeks wat meer aan die rolprent Barbie herinner as aan ‘n Koreaanse reeks. En moenie dat laasgenoemde feit jou afsit nie. Dis heeltemal anders as meeste Asiese komediereekse wat jy al gesien het. Dis eintlik so verfrissend soos om op ‘n pad te ry waar al die verkeersligte werk.

Dit gaan oor ‘n luukse en bekende Suid-Koreaanse hotel in Seoel met die naam KING. ‘n Onskuldige en pragtige meisie kry daar ‘n werk omdat sy so mooi glimlag. Haar paaie kruis met dié van die verwaande en geleerde seun van die hoteleienaar. Hulle maak mooi musiek saam. Maar sal hulle uiteindelik genoeg raakpunte kry om die komiese wanklanke, wat soms gehoor word, die hoof te bied?

Romanse tussen ‘n onpaar-paar en twee uiterstes wat nie eintlik bymekaar hoort nie, is lanklaas met soveel grasie en voortvarende eksperimentering en oorspronklikheid aangebied. Onthou net: dit neem ‘n hele rukkie om daaraan gewoond te raak voordat jy beloon word. Dis soos die koue. As jy eers ‘n rukkie buite was, raak jy, soort van, gewoond daaraan.