KINGDOMS OF FIRE, ICE AND FAIRY TALES (Showmax)

KINGDOMS OF FIRE, ICE AND FAIRY TALES (Showmax)

KINGDOMS OF FIRE, ICE AND FAIRY TALES is gemaak deur die multibekroonde Bonné de Bod en Susan Scott. Hulle vorige dokumentêr, Stroop, het strak gekyk het na die gruwels van renosterstroping. Hierdie keer sweef die twee op die skoonheid van die natuur. Gewapen met kameras, vrouemoed en deursettingsvermnoë, takel hulle die Swart Woud, waar Bonné de Bod met haar warm, vriendelike aanbieding ons verseker dat bome met mekaar kan praat. Ons loop saam met haar, soos gesien deur Susan se kamera, deur die prag van die Swartwoud waar die son dikwels nie eers op die nat blaremassa onder bykom nie. ‘n Mens vergaap jou letterlik aan die skoonheid en die twee vroue se moed om in sulke afgeleë terreine te skiet en so eerlik en vriendelik met jou te praat.

Hulle gaan ook na Yellowstone in die VSA en staan op die oudste vulkaan in die wêreld waar hulle jou verstom aan skoonheid soos ‘n mens  nie kan dink bestaan nie. Dis Bonné se mededeelsame, persoonlike aanbieding, waar dit voel of sy nét met jou praat, haar verwondering aan die natuurskoon en Susan Scott se kamera wat net weet waar om te fokus, wat KINGDOMS OF FIRE, ICE AND FAIRY TALES ‘n dokkie maak wat jou sal meevoer. Jy sal byvoorbeeld hoor waar sprokies soos Hansie en Grietjie ontstaan het. En wag tot jy die Noorderligte in Noorweë gesien het. ‘n Mens se mond hang oop. Al kyk jy net een dokumentêr die maand, sorg dat dit KINGDOMS OF FIRE, ICE AND FAIRY TALES is wat nou op Showmax wys. Dis absoluut asemrowend.