KUNG FU HUSTLE

Nou’t die man wraggies al sy varkies verloor, hoor ek julle sê. Die fliek se naam is KUNG FU HUSTLE… dis slapstick van voor na agter. Mense snel ylings teen duisligwekkende spoed soos die strokies se road runner deur die wêreld. Manne gly op piesangskille en kakebene breek. Hoe DURF jy so ‘n fliek aanbeveel? Verstaan baie duidelik: KUNG FU HUSTLE is op ‘n sekere gehoor ingestel en hulle sal absoluut gek wees oor die burleske, spontane, aweregse fliek. Vir die ander sal dit makliker wees om ‘n tand sonder verdowing te laat trek as om deur KUNG FU HUSTLE te sit.

Dit gaan oor ‘n bleeksiel wat graag koel wil wees. Hy wil lid word van die gevaarlike AXE bende. Die vrou by wie hy sy kamer huur is egter ‘n wrede heks en sy beseer hom waar dit die seerste maak. Hoe nou gemaak? KUNG FU HUSTLE was die gewildste rolprent in China se geskiedenis en was bo-aan die gewildheidsleer in Amerika. Jou standard het lelik geval, swear, sê jy seker. Wel, KUNG FU HUSTLE is ‘n maak-jou-hare-los-dolla-en-wees-koel-fliek. Jong mense, skoliere en filmskoolstudente sal hul kakebene kraak soos hulle lag en hulle knieë lam slaan van uitspattige humor.

Pa en ma moet liewer na Happy Endings gaan kyk. Want KUNG FU HUSTLE is wilder as Jackie Chan wat gegiste maroelas geëet het. Dit wemel van slapstick en is totaal verspot, uitbundig en oordadig. Net vir koel dudes en byderwetse meisies. Dit draai die teater letterlik op sy kop.