LADDER 49

LADDER 49 is gemaak vir sepieverslaafdes wat meer aksie wil sien as net ‘n klomp mense wat in ‘n kamer sit en praat. Dis super melodramaties, en al probeer dit jou onder die indruk bring van die dapper werk wat brandweer-manne doen, stel dit teleur. Die probleem is die regisseur wat so hard probeer trane trek en die storie wat maar net nie wil koers kry nie. John Travolta en Joaquin Phoenix doen hul bes om lewe in die spulletjie te blaas, maar hulle het nie ‘n kans teen die oorweldigende vlammetonele nie.

Brandweerouens en laities wat eendag self brandweermanne wil word, mag dalk hiervan hou, alhoewel die ouens wat die werk rêrig doen mag sê: dis te veel Hollywood. En die trane vloei soos koeldrank op ‘n kleuterpartytjie. Ek wens iemand wil ‘n ordentlike huldeblyk aan hierdie bomenslike dapper manne maak. Maar LADDER 49 is nié daardie huldeblyk nie. Dis Hollywod-glans en trek skaamteloos trane. 5 uit 10.