Limitless (Reeks / Disney+)

Limitless (Reeks / Disney+)

Daar is al baie gesê oor dit waaraan Chris Hemsworth hom in die reeks LIMITLESS onderwerp het. Ons skrik saam met hom vir vure, afgronde, toringgeboue, woeste oseane en yskoue water. Een van die hoogtepunte van die reeks, is in episode 5 wanneer Chris die nuus kry dat hy ‘n goeie kandidaat is vir Alzheimers se Siekte.

In die episode gaan dit oor geheue en die funksies van die brein. Daar word verduidelik hoe ons brein saamgestel is en waar ons geheue presies lê. Ook wat ons slaappatroon versteur en ons brein besoedel. Maar ook hoe daardie gedeelte van die brein, in die vorm van ‘n seeperd wat sorg dat jy kan onthou, maar ook kan slaap, kan krimp. Om dit teen te werk, gaan Chris en sy vriend Otis op ‘n reis deur die Outback van Australië, en moet veral Chris sorg dat hulle die regte rivier, die regte waterval en die regte berg kry voordat hulle saam met die Aborigines kan vergader en geestelik verryk word.

Pragtige fotografie en skote van ongelooflike natuurskoon onderstreep die toetse waaraan veral Chris hom onderwerp, terwyl hy erken dat hy vrees om eendag niks te kan onthou nie. En om te dink aan waar sy eerste herinneringe vandaan kom. ‘n Voorval toe hy sy pa momenteel verloor het, maar weer gekry het.

LIMITLESS stel meer eise aan jou brein as ‘n gewone TV-reeks. Dis interessanter, meer leersaam en stimuleer die kyker.