Love Hard

Love Hard

LOVE HARD is ‘n romantiese komedie vir die hele gesin, maar leen baie by LOVE ACTUALLY, waarvan jy nie veronderstel is om te hou nie. Dis voorspelbaar en deursigtig, die karakters is mooier as ‘n Smartieboks wat uitgeval het, en die storie so dun soos jou humeur gedurende beurtkrag. Maar dis so kunsmatig vermaaklik, dat ‘n mens pens en pootjies daarvoor val.

‘n Meisie ontmoet ‘n man op die internet en besluit, op grond van sy aantreklike foto, om Kersfees by hom deur te bring. Daar aangekom, lyk hy glad nie soos op sy foto nie. Om die waarheid te sê, hy is ‘n super-bleeksiel. Die film waarsku: moenie mense op hulle voorkoms of vooropgestelde idees takseer nie. LOVE HARD is oppervlakkig en voorspelbaar, maar om die een of ander rede regtig professioneel vermaaklik.