Love in the Villa (Netflix)

Love in the Villa (Netflix)

LOVE IN THE VILLA is ‘n prettige, liggewig en sjokoladedoos-sneesdoekie van ‘n rolprent. ‘n Mens kyk daarna soos jy ‘n boks sjokolade verorber. Jy weet daar is te veel kalorieë in, jy weet jy moenie, maar jy eet telkens nog een, en nog een, tot jou soettand so pyn en jy so oorversadig is, dat jy maagpyn kry. Dis nou uit ‘n resensent se oogpunt…

As jy sommer net vanaand wil tjil en uitspan, gaan dan saam met die mooi mense, in verskeie stadia van ontkleding en lywe tentoonstel, wat verlief raak, maar nie gereed is vir liefde nie. Foeitog.

Natuurlik speel die storie af in die prentjiemooi Italië wat soos ‘n Valentynsdagkaartjie lyk. ‘n Mooi meisie gaan na Juliet, van Romeo en Juliet-faam, se veronderstelde geboorteplek, Verona. Daar ontmoet sy ‘n vleispaleis in sy boxers wat haar asem wegslaan. Maar hulle haat dit eers om van mekaar te hou, en baklei en kibbel die hele lekkergoedpapiertjie-rolprent deur. So erg, dat hulle skoon van Romeo en Juliet se balkon vergeet, en net rusie maak. Maar… nou ja, jy weet hoe dit gaan eindig. Slurp hierdie uit ‘n blik gouestroop vir 2 ure…