Made In Italy
Made In Italy

Made In Italy

Die Italiaans-Engelse rolprent, MADE IN ITALY, swiep jou uit jou grendelgreep-TV-kamer, seil met jou na ‘n teater met ‘n wye silwerdoek, en gooi jou midde-in die skoonheid van Toskane in Italië. Enigiemand  wat tot dusver versigtig was om rolprentteater te besoek, glo my, jy moet MADE IN ITALY in ‘n bioskoop sien want dit sal jou meevoer.

‘n Grommelrige pa, die immer bars-bariton-skraap-stem van Liam Neeson, is vervreemd van sy seun. Die laaitie, Neeson se werklike seun wat net so aantreklik is soos sy pa, Micheál Richardson, wil sy ma se beeldskone herehuis in Toskane verkoop. Pa en seun ry dan self soontoe, want die pa wil die koop verhoed, en maak vrede met mekaar tot die poskaartmooie eienares van ‘n restaurant opdaag.

Jy weet hoe die storie gaan eindig, maar dis die reis na Italië, die son wat jy kan drink en proe, die klein dramas en die mooi mense wat ongelooflike lekker pasta maak met vistas wat jy wil raam, wat MADE IN ITALY ‘n verkwiklike ervaring maak. Bederf jouself, neem ‘n twee-uurlange vakansie en gaan uit jou huis na MADE IN ITALY. Al is die storie gewoon, is die plek waar dit afspeel weergaloos.