Malpractice (Reeks)

Malpractice (Reeks)

Daar sit jy op ‘n Sondagaand. Die kuiermense is weg, die braaivleis wat oorgebly het is in Tupperware-bakke toegemaak, hulle het al die bier opgedrink, en die Sondagaand lê soos ‘n sandduin voor jou.

Rig jou afstandbeheerder met mening op Showmax, gaan verby al die juigende advertensies oor nuwe reekse, en fokus op MALPRACTICE. Dit lyk na nog ‘n hospitaalsepie, en jy raak al moeg van ylende mense en dokters wat besete hardloop in sepies en hospitaalreekse. Maar hierdie een is bietjie anders.

Nes jy wil oorskakel na iets anders sonder chloroform, bars daar skielik ‘n drama in MALPRACTICE los was niemand kon voorspel nie. En van hier af ry meer as een satan die heldin, dr. Lucinda Edwards, bloots. Sy beland in ‘n dilemma tussen ‘n skalpel en ‘n oordosis dwelms.

Die reeks het letterlik nie ‘n vervelige oomblik nie, maar ten spyte van haar voortvarende astrantheid, is ons heelpad aan die dokter se kant. Elke probleembal wat op haar afgevuur word, slaan sy met mening terug. Moenie MALPRACTICE vlak kyk nie. Net ‘n waarskuwing: daar is bloederige operasietonele. Dis supervermaaklik.