Manhunt: Unabomber (Reeks / Netflix)

Manhunt: Unabomber (Reeks / Netflix)

MANHUNT: UNABOMBER vervul jou met grieselrige vrees, en hou jou vasgenael. Dit is op die waarheid gebaseer, en al smokkel dit soms met die ware feite, is dit so boeiend gedramatiseer, dat dit voel of jy na ‘n vreesaanjaende drama kyk wat jou aan die skerm vasboei.

Dekades gelede het ‘n geniale psigopaat bomme na onskuldige mense in Amerika gestuur wat hulle dan vermink of gedood het. Die FBI het ‘n taakmag aangestel met ‘n profieloptrekker, wat gepoog het om die monster te identifiseer. Sam Worthington van Avatar onderspeel die agent uitmuntend.

Vir agt episodes staar ons verbysterd hoe hierdie twee se IK’s skaakspeel met mekaar. Dit verklaar ook op spanningsvolle wyse hoe die Unabomber die bomme gemaak en versend het, en hoe een man planne moes beraam om hom vas te trek. Hy het 16 bomme gestuur en was op pad om nommer 17 te versend toe hy gevang is. Maar daardie geniale brein het ander planne beraam want hy het eintlik reklame vir sy ideologieë gesoek. En sy verskyning in die hof, asook die aanklaers en prokureurs se bekgevegte, vul die laaste deel van die reeks.

MANHUNT: UNABOMBER is ‘n ysingwekkende reeks wat jou sal ontsenu, jou maag sal laat klont van skok met die wete: die verloop is grootliks op die waarheid gegrond, en mag jou onthuts. Dit is ‘n hoogtepunt, en Paul Bettany as die bomplanter sal jou bloed laat stol. Onmisbaar.