MARCH OF THE PENGUINS

Ek kan nie vir julle sê hoeveel e-posse kry ek van mense wat desperaat vra: ek wil my hele gesin fliek toe neem, maar alles het beperkings of daar is ‘n gevloek en ‘n geswets en ‘n gekafoefel en ‘n geskarrel. Vir julle begin die ideale fliek vandag: MARCH OF THE PENGUINS, hier genoem THE EMPEROR’S MARCH. Dis ‘n dokkie waarin 2 manne vir 2 jaar saam met ‘n klomp pikkewyne in Antartika gaan bly het om hul gewoontes te verfilm.

Die dokumentêr wys hoe pikkewyne 100 kilometer ver stap deur die ys-woestyn van Antartika om te paar. Wanneer die kuikens gebore word, beskerm hulle die kleintjies teen die ysige koue. Die tonele alleen is jou R38 werd. Die ma’s waggel dan 100 kilomter terug see toe om kos te kry en waggel weer terug na die pa’s en kleintjies om hulle te voer. En so word die patroon herhaal. Ek weet dit klink nie baie opwindend nie, maar die MANIER waarop dit vertel word, is briljant. ‘n Mens sit vasgenael en staar na die rare en opwindende dokkie. Bewys jouself en jou gesin ‘n reuse-guns. Gaan mars saam met die pikkewyne in MARCH OF THE PENGUINS oftewel THE EMPEROR’S MARCH. Dit sal jou lewe ryk maak.