Moneyball

Moneyball

As mense Brad Pitt se naam sien, kry hulle soms die verkeerde indruk van ‘n fliek. Hulle verwag ʼn vleispaleis wat sy hemp uitpluk as die kamera aangeskakel word, blonde lokke wat in stadige beweging ritteltit soos Justin Bieber se kuif, en smeulende oë. As dit is wat jy verwag in MONEYBALL, moet jy ver wegbly, want dis omtrent so ver verwyder van ʼn kommersiële suiglekkertjie as ʼn pakkie plastiese winkelkos van ouma se Sondagmiddagmaal.

MONEYBALL is ʼn uitmuntende rolprent wat Oscars gaan wen, maar dis nie vermaak nie. ʼn Bofbalbreier en bestuurder, Brad Pitt, het ʼn onortodokse manier waarop hy sy spelers kies. Hy voer sy oorloë en strategieë in sy kantoor, nie noodwendig op die bofbalveld nie. En dis waaroor MONEYBALL gaan: oor die politiek agter die skerms van bofbal.

Dit sou goed wees as Suid-Afrika ʼn soortgelyke rolprent oor rugby maak waarin daar intens gekyk word na die skaakskuiwe agter die skerms, nie noodwendig die rigting waarin die bal trek nie. MONEYBALL is dus net vir mense wat hulle rolprente ernstig opneem. Waarin die vertel van ʼn storie die bysaak is, en die subteks en dieper betekenisse die tema vorm. Dit is net op deurwinterde filmfoendies gerig.