Mr. Bones 3: Son of Bones

Mr. Bones 3: Son of Bones

Sowaar? Jy beveel aan dat ons na ‘n Leon Schuster-film moet gaan kyk, vra julle. Inderdaad. Mits jy van Schuster hou – bygesê. MR. BONES 3: SON OF BONES is die mees gedissiplineerde komedie wat Leon en Gray Hofmeyr nóg gemaak het. Die storie is onbelagrik, behalwe dat daar olie in Kavukiland is. Bones en sy kostelike seun met die frommelgesiggie (Alfred Ntombela) probeer die olie beskerm.

Jy weet wat wag. As jy na Schuster gaan kyk, is daar slapstick. ‘n Rystoel se remme raak opklaar en die stomme koning vlieg deur die lug. Daar is voëls wat onbeskofte dinge doen, en daar is grappe en wrede poetse in oorvloed.

Met ‘n Schuster-film ken jy die resep, en jy gee jou oor daaraan. Die poetse het dié slag meer struktuur, en die storie verloop meer logies, as mens die term logies kan gebruik, tot by sy einde. Interessant dat Bones hartseer lyk, amper asof hy afskeid neem van sy sorgvrye dae… hy raak ook nou oud. MR. BONES 3: SON OF BONES is beter as Leon se vorige flieks en is suiwer op gemaklike vermaak ingestel. As jy in ‘n lawwe bui is, is dit jou kos.