Mr. Harrigan’s Phone (Netflix)

Mr. Harrigan’s Phone (Netflix)

Ek hoef net sy naam een keer te sê, en jy vermoed reeds wat wag: Stephen King. Hy is die wêreld se mees suksesvolle riller- en gruwel-skrywer. En soos Agatha Christie, het sy naam al ‘n handelsmerk geword. Een van sy stories, MR. HARRIGAN’S PHONE, word aanbeveel as jy so twee uur het om te verwyl, jy nie jou brein wil uitput nie, jy wil jou nie weer aan ‘n reeks onderwerp nie, en jy wil sommer net bietjie gril. Die storie is nie eintlik so skrikwekkend dat jy nie vanaand sal slaap nie, maar jy sal deur ander oë na jou selfoon se gelui luister.

Dit gaan oor ‘n seunm (die puik Jaeden Martell) wat in Defending Jacob gespeel het, wat bevriend raak met die eksentrieke en streng meneer Harrigan wat nie van tegnologie hou nie. Hy is tog nuuskierig oor selfone. Dan gee die seun vir hom ‘n slimfoon present. Wanneer meneer Harrigan sterf, sit die seun die foon in die lyk se sak in die kis, en die ouman word daarmee begrawe. Nou weet jy wat om te verwag…

Wat werk is die onderspeelde grieselrige atmosfeer sonder om eksplisiete grieselgeeste op te roep. Maar dit vra ook baie vrae oor wat ná die dood gebeur. MR. ARRIGAN’S PHONE mag jou middag moeiteloos laat verloop as jy nie weet wat om met jouself aan te vang nie.