MRS. HENDERSON PRESENTS

Een fliek waarheen jy NIE die hele gesin kan neem nie, is die histeriese MRS. HENDERSON PRESENTS met Bob Hoskins en Judi Dench. Sy is vir ‘n Oscar genomineer as ‘n guitige ou dame wat skatryk erf in Brittanje net voor die Tweede Wêreldoorlog. Saam met ‘n flambojante impresario gebruik sy die geld om ‘n revue met ‘n verskil in Londen se Soho aan te bied. Die verskil is die meisies is almal kaal. Die regering weier. Maar dan kom sy met ‘n slim slenter vorendag. Sy sê as die meisies nie beweeg nie, is dit ‘n KUNSTIGE tafereel. Die regering koop haar voorstel en die manne stroom na hierdie jolige lekkergoed-vir-die-oë-vertonings. En dan breek die oorlog uit en alles verander.

As jy van LADIES IN LAVENDER gehou het, sal MRS HENDERSON PRESENTS jou groot plesier gee. Dit sal jou lagspiere kielie, dit sal jou laat skaterlag vir die kwinkslae en vir die vermetele vasberadenheid van Mevrou Henderson. Maar dit sal jou ook met deernis vervul as jy sien hoe twee koppige mense kliphard probeer om ‘n saketransaksie te laat werk. Of jy vir ouma na MRS. HENDERSON PRESENTS kan neem? Wel, ek ken ‘n paar oopkop-oumas wat hulle perms skoon in ‘n koma sal lag hiervoor en wat ondeund harder sal lag as jy! MRS HENDERSON PRESENTS bevat, uit die aard van sy tema, naaktheid. Maar dis in SOVEEL goeie smaak gedoen, dat ek ‘n kans sou waag as ek jy is. MRS HENDERSON PRESENTS is uitbundig, verspot, jolig maar ook deerniswekkend.