MUST LOVE DOGS

Almal van julle wat sê: ek gaan darem R35 betaal om na ‘n psigedeliese deurmekaarspul te gaan kyk! Vir julle het Diane Lane ‘n advertensie in ‘n koerant geplaas. Sy’s die meisie wat Richard Gere so gruwelik verkul het in UNFAITHFUL. Dié slag soek sy ‘n man en haar advertensie lees soos volg: hy moet sensitief, vriendelik en aantreklik wees. En hy moet van HONDE hou. MUST LOVE DOGS is ‘n romantiese komedie wat woema in jou naweek sal plaas. As jy oorwerk is of voel jou baas sien nie jou potensiaal raak nie en behandel jou soos ‘n brak, gaan kyk na MUST LOVE DOGS.
Dis ‘n gemaklike, snaakse en hoogs vermaaklike romantiese komedie. Dis gesofistikeerd, dis redelik intelligent, die draaiboek is pittig met snapsies swart humor, die karakters rààk geteken en die verloop van die fliek seepglad en boeiend. As jy sommer net wil wegraak in ‘n fliek en vergeet dat daar ‘n buitewêreld is, kies MUST LOVE DOGS.