NAPOLEON DYNAMITE

Ek weet ek het die term “bleeksiel” al baie gebruik. Dis hoe ek voel as ek tenoor die formidabele meneer Cobus Bester sit. Bleeksiel is die Afrikaans vir NERD. Nou: Hollywood het bleeksiele nog nooit baie simpatiek behandel nie, want in L.A. moet jy fiets, aantreklik, gespierd en sjarmant wees en kuiltjies selfs in jou bieseps hê. Arme NAPOLEON DYNAMITE is omtrent so sjarmant soos ‘n skaap wat die kalfiewals doen. Die stomme vent is verlep, dra ‘n dikraambril, praat in ‘n toonlose stem, het puisies en kan sy gedagtes skaars behoorlik formuleer. Sal iemand ooit na hom kyk?

NAPOLEON DYNAMITE is ‘n eksentrieke, rare fliek – NET aanbeveel as jy van spitsvondige, effe-dowwe, kadukse ervarings met ‘n houding hou. Dis soos om na ‘n partytjie te gaan waar jy niemand ken nie en te hoop jy skakel in. Dit word UITSLUITLIK vir studente of fliek-entoesiaste aanbeveel. As jou vereistes vir ‘n goeie fliek is dat dit glansryke, romanties, mooi, skoon en verteerbaar moet wees soos SHALL WE DANCE, is NAPOLEON DYNAMITE nié vir jou nie, maar wel vir almal wat flieks bestudeer of dit werklik ernstig opneem. Dit kan geweldig irriteer omdat dit gaan oor iemand sonder persoonlikheid wat probeer inpas. Dis NIE gehoorvriendelik nie. Die fliek wys sy vinger vir die gehoor.