Natalie Wood: What Remains Behind (Rolprent / Showmax)

Natalie Wood: What Remains Behind (Rolprent / Showmax)

Veral ouer mense sal Natalie Wood ken – ‘n pragtige, stylvolle aktrise. Sy is tragies oorlede op die ouderdom van 43 in 1981. Natuurlik is daar talle teorieë, soos altyd gebeur wanneer ‘n bekende onder raaiselagtige omstandighede sterf.

In die dokumentêr NATALIE WOOD: WHAT REMAINS BEHIND word onderhoude gevoer met meeste van die mense wat haar geken het. Daar word kwaai gegis oor wat die aand op ‘n boot gebeur het toe sy verdrink het. Sy het aan ‘n rolprent, Brainstorm, gewerk. Sy, asook een van die sterre van die fliek, Christopher Walken, en Robert Wagner, met wie sy twee keer getroud was, was die nag op die boot. Daar was ‘n argument. Haar lyk is die volgende dag in die water ontdek. Is sy vermoor of was dit ‘n ongeluk?

Weeg die teorieë teen mekaar op, luister na Robert Wagner se herinnering aan die nag, en wonder hoekom Christopher Walken slegs in twee of drie sinne oor haar dood praat. Die dokkie laat ons ook haar ikoniese rolle onthou soos Splendor in the Grass en Love with a Proper Stranger. Veral haar dogters praat met deernis oor haar. Maar wat dink jy het gebeur? NATALIE WOOD: WHAT REMAINS BEHIND is ‘n knap, boeiende dokumentêr.