NIGHT WATCH

My gunsteling onder die nuwe aankomelinge is NIGHT WATCH… en glo my, nes SIN CITY het jy nog NOOIT iets so treffend en oorspronklik gesien nie. Dis psigedelies kleurvol, dis anders, dis vars en dis nuut. Boonop kom die rolprent uit RUSLAND EN dis wetenskapfiksie. En mens is nie gewoond daaraan dat flieks wat STAR WARS aanvat die hamer en sekel in sy agtersak het nie. Dis gegrond op ‘n trilogie en gaan, soos meeste ruimtefiksie-flieks, oor die botsing tussen goed en kwaad. Eintlik moet jy so min as moontlik van die storie weet voor jy gaan kyk. Dis soos om na ‘n restaurant genooi te word waar jy nog nooit tevore was nie en om uitgeboul te word deur die ongelooflike lekker kos. As jy ‘n fliekfundi is wat soek na ‘n ervaring wat jou verbeelding in ‘n wentelbaan om die aarde gaan plaas, kies NIGHT WATCH. Maar onthou, as jy vermaak wil word, bly ver weg. Dis soos THE MATRIX gemeng met DARK CITY met ‘n tikkie Film Noir by. NIGHT WATCH is ‘n klein meesterstuk.