No Time to Die

No Time to Die

Ek weet wat almal dink. NO TIME TO DIE gaan probeer om die vorige Bonds te oortref wat seks en aksie en ingewikkelde storielyne betref. Maar julle is verkeerd. Hierdie Bond is anders en suiwerder. Dit is baie meer ernstig en menslik as sy voorgangers. Daar is weinig clichés, maar ook minder aksie. Wanneer daar jaagtogte of gevegte is, is dit gemotiveerd en voer dit die storie verder. Dit vul nie blote gate waar die storie tekort skiet nie.

Kortliks gaan dit oor Bond wat weer die wêreld van ‘n monster moet red wat die mensdom met ‘n virus en kieme wil vernietig. Hy raak verlief en hy behandel vroue, veral sy minnares, met baie meer teerheid as tevore. Hy wys ook dat hy soms spyt is oor wat hy alles in sy verlede gedoen het, en die feit dat hy nooit geluk saam met een vrou gevind het nie. Weet net: daar is vele verrassings en onverwagse wendings waaroor nie jy (veral nadat jy dit gesien het) of ek mag praat nie. Sommige verrassings het my letterlik na my asem laat snak. Dit is soms te lank, maar die netjies gechoreografeerde aksie is in die kol en gemotiveerd.

As jy na Bond gaan kyk, berei jou voor: dit is anders as die vorige Bonds en wys ‘n meer volwasse en verantwoordelike Bond wat vir die eerste keer met homself gekonfronteer word, en dis nie maklik nie. Die fliek is 2 ure en 45 minute lank. NO TIME TO DIE is dalk die beste moderne Bond nog.