NUMBER 10

Ai. Dit spyt my waternat om hierdie fliek af te kraak. Maar ek is bevrees dit is onmoontlik om NUMBER 10 tussen die pale deur te klits, laat staan nog om hom onder jou arm te hak en agter die doellyn te druk. Dis die eerste plaaslike fliek wat ons na TSOTSI sien. En almal wat nie na Tsotsi wou gaan kyk nie omdat hulle dit van politiekery of polities korekktheid verdink, mag verligting by NUMBER 10 kry. Net jammer die fliek is so ondraaglik swak, lomp, oordramaties en stug.

NUMBER 10 met Colin Moss in die hoofrol gaan oor ‘n rammetjie-uitnek rebelse rugbyspeler wat net moeilikheid maak… nou wonder ek op wie die kêreltjie dalk gegrond is… Hy haat sy afrigter en weier om die reëls te volg. Al reëls wat hy het, is om saam met die manne om ‘n glas bier te bond in ‘n nagklub na die wedstryd… en die meisies wat hy charm nadat die voggies klaar gevloei het. ‘n Stereotipe beeld van ‘n rugbyspeler vra jy? Wag tot jy die ander karakters gesien het.

Die geforseerde karakterisering, die voorspelbare storie en die swak regie doen afbreek aan ‘n fliek wat DALK iets oor die politiek agter rugby kon sê. Maar soos hy hier staan, lyk dit eerder na ‘n skoolproduksie. Ek is jammer om die fliek so af te kraak, want die storie het die potensiaal gehad om meer vermaaklik en positief te wees. Dit wemel so van die foute, dat ‘n mens nooit jou brein kan afskakel en dit geniet nie. Naas Botha tree ook in die rolprent op. NUMBER 10 se rugbytrui het gebleik en sy beseringstyd is verby. Rugby was nog nooit so vervelig nie.