P.S.

‘n Interessante en baie meer intieme fliek begin ook vandag… ‘n lekker alternatief vir Maandag as vakansiedag. Dit heet P.S. Jy weet, soos mens onder aan ‘n brief skryf as jy vergeet om vir jou geliefde te sê: “ek het jou lief.” Laura Linney speel die hoofrol. En jy kan maar weet, as dié talentvolle meisiekind ‘n rol aanvaar, is die fliek gewoonlik die moeite werd. P.S. is spesiaal gemaak vir almal wat van ‘n vernuftige, beheerste, onderspeelde liefdesverhaal hou.

Dit gaan oor ‘n vrou wat as toelatingsbeampte by ‘n universiteit werk. Eendag ontdek sy ‘n studente-aansoek wat haar aandag trek. Dis die mannetjie se VAN wat haar laat regop sit. Hy herinner aan haar kêrel wat jare gelede dood is, en wat sy NIE kan vergeet nie. Dan laat sy hom persoonlik inkom vir ‘n onderhoud… en haar oë peul byna uit haar kop. Nie omdat dit TOPHER GRACE is wat gesien word as die denkende vrou se sekssimbool nie… maar omdat hy nes haar oorlede kêrel lyk MET dieselfde naam nogal! Is hy dalk die reïnkarnasie van haar groot liefde?

Ja, ek weet die storie klink vergesog… nes een van hierdie slapbandromans wat jy op die lughawe koop om die vlug Jhb of Kaapstad toe korter te maak, en jy het THE DA VINCI CODE al gelees. Maar moenie jou misgis nie. Die rolprent is NIE so soetsappig of manipulerend as wat dit klink nie.

P.S. het wel sekstonele en taalgebruik wat jou kan aanstoot gee. Voornemende kykers moet hulle DEEGLIK daarvan vergewis. Maar as jy jou romantiese rolprente ernstig opneem… en die resep van die liefde interesseer jou, is P.S. die ware jakob vir die langnaweek mits jy nie maklik geskok raak nie. Dit is ‘n intelligente, intieme, gesofistikeerde romantiese rolprent wat liefde probeer ontleed. P.S. as jy oopkop gaan fliek.