PERDIDA (Reeks)
Perdida TV-reeks

PERDIDA (Reeks)

PERDIDA is een van daardie doringdraad-kou televisiereekse op Netflix waar jy soms kop wegdraai en sê: o nee, eina pappa!!

‘n Man se dogter word ontvoer. Hy weet presies wie dit gedoen het. Jare later sluk hy ‘n houer kokaïne nadat hy uitgevind het haar ontvoerder is in Bogotá. Hy sorg dat hy daar in die tronk beland om met die booswig af te reken. Jy het gedink Midnight Express se tronk laat die houe op ontblote voetsole reën! Wag tot jy sien wat hier gebeur!

Natuurlik word die arme held in die tronk verinneweer en geslaan tot hy kerm. Hy het egter net een doel voor oë: om die ontvoerder aan die pen te laat ry. Ons (as kykers) sien en weet waar die jong meisie gevange gehou word, en daar is geen broodkrummeltjies na daardie kasarm toe nie. Hoe gaan hy haar kry?

PERDIDA is boeiend. Die geweld word afgewissel deur die held se gesprek met sy prokureur, en die planne wat hulle beraam om hom nie net uit die gevangenis te kry nie, maar om sy dogter, wat nou ‘n nuwe ma het, ongeskonde terug te kry.

Hierdie reeks is vir taai kykers. Dit is in Spaans met Engelse byskrifte.