Perfume (Reeks / Netflix)

Perfume (Reeks / Netflix)

As jy PERFUME op Netflix teëkom, dis nié ‘n nuwe weergawe van Patrick Süskind se berugte roman nie. Die storie is wel daardeur beïnvloed, wanneer ‘n groep skoliere gefassineer word deur die roman. Ook met hulle reuksintuie. Jare later ontmoet ons hulle as volwassenes en raak betrokke by moord, donker, strak beelde, ‘n storie wat stadig ontvou, en ‘n groep mense met ‘n obsessie oor reuk, parfuum en die dood.

Dit begin wanneer ‘n vrou se lyk in ‘n swembad ontdek word. Wie van hierdie groepie het haar vermoor en vermink? Almal van hulle is steeds behep met reuk en parfuum, maar op ‘n diaboliese manier. Of is daar ‘n ander oplossing?

Wees daarvan bewus dat dit tydsaam beweeg met ‘n selfbewuste donkerte wat verlammend op die kyker inwerk. Lang, eensame skote, mense wat sag in onderspeelde vertolkings met mekaar knoei, en later uitbars, en ‘n uiters ontstellende ontknoping kenmerk hierdie reeks. PERFUME, wat nie met die rolprent, PERFUME: THE STORY OF A MURDERER, verwar moet word nie, is op ‘n baie spesifieke en gesofistikeerde smaak gerig.

Die oorspronlike Duitse titel is PARFUM.