PHANTOM OF THE OPERA

‘n Klomp grotes ding vandag mee om ‘n hap uit jou beursie te vat. Die grootste en mees kleurvolle is seker Andrew Lloyd Webber se THE PHANTOM OF THE OPERA, gegrond op die verhoogstuk. Baie mense kon nie uitgepraat raak oor die musiekblyspel toe dit in Pretoria se Staatsteater opgevoer is nie. Vele het dit ook oorsee gesien. Hierdie PHANTOM maak die rolprent wyer oop, nie net vir ‘n groter gehoor as die een wat teater toe gaan nie, maar open ook die visuele skouspel vir die kamera. Wanneer die spook Christine met die ondergrondse kanale vervoer, is ons saam met hulle in die water. Ons neem deel aan die skouspelagtige teaterdrama waar die reuse-kandelare op die gehoor val en die kamera swiep jou bo-oor die mure van die operahuis na die ou Parys buite. En die pragtige musiek basuin uit verskeie luidsprekers in die mooiste klank na jou toe.

Emmy Rossum het 16 jaar oud geword op die stel. Kan jy glo, hierdie petite klein meisietjie dra die hele THE PHANTOM OF THE OPERA op haar tenger skouertjies en sy is briljant in die rol van Christine. Gerard Butler sing die kandelare uit die dak uit as die Phantom en Minnie Driver is histeries as die diva wie se rol Christine oorneem. Oor die musiek hoef ek nie te praat nie, julle ken dit almal. Praat van skouspelagtige vermaak. THE PHANTOM OF THE OPERA in Dolby Stereo op die silwerdoek is selfs nog beter as op die verhoog en Joel Schumacher behou die donker, Gotiese atmosfeer en het respek vir die verhoogproduksie. Andrew Lloyd Webber het terloops bykomende musiek vir die silwerdoek geskryf.

Ek was oorweldig deur THE PHANTOM OF THE OPERA wat 8 uit 10 kry. As jy lus is vir grootse, oorweldigende vermaak, kan jy nie ‘n fout maak nie.