Queen Charlotte: A Bridgerton Story (Reeks / Netflix)

Queen Charlotte: A Bridgerton Story (Reeks / Netflix)

Die vreemdste reekse raak dikwels ‘n onverwagse sensasie. Nie alleen het niemand verwag dat die formele Bridgerton-reekse die wêreld sou verlei nie, maar ‘n sogenaamde spinoff, QUEEN CHARLOTTE: A BRIDGERTON STORY, het die tonge los. Geen slak of gees het verwag dit gaan so ‘n sensasie wees nie. Die feit dat dit vrygestel word kort ná koning Charles se kroning, speel natuurlik ook ‘n rol.

Dit gaan oor die veelbewoë koning George III, wat die kluts dikwels kwytgeraak het, se gebeurtenisvolle huwelik met Charlotte in 1761. Hulle is getroud ses ure ná hulle ontmoeting. George se ma se opdrag aan, nou koningin Charlotte, is om soveel kinders as moontlik te kry. Maar teen watter prys? Die reeks is losweg op die waarheid gebaseer.

In QUEEN CHARLOTTE, A BRIDGERTON STORY word die wel en weë, tragedies en misnoeë van die koninklikes knap uitgebeeld. Dit klink dalk nie vermaaklik nie, en hierdie resensent het maar langtand gekyk, maar Shonda Rhimes, ook verantwoordelik vir Grey’s Anatomy, ken TV-gehore so goed, dat sy jou vroeg-vroeg in die sak steek. Dit het baie prag en praal. Mooi mense, formele dialoog, ‘n gekonkel agter die skerms en baie partytjies en baldanse vul die episodes. Probeer QUEEN CHARLOTTE: A BRIDGERTON STORY op Netflix. Jy sal gou-gou vir haar sjarme val.