Rita (Reeks / Netflix)
Rita

Rita (Reeks / Netflix)

RITA is een van die mees uitspattige, vertonerige en sexy reekse wat met die klik van jou afstandbeheerder haar blokkieshemp sal aanpluk. Dit is ‘n Deense reeks met Engelse byskrifte, maar ek moet maan: dit is seksueel eksplisiet en ruk jou blinddoek heeltemal van jou oë af. Hulle doen dinge anders in Deense skole! Hierdie is geen Trompie of Saartjie nie! Jou kop moet oop wees.

‘n Onortodokse geskeide vrou, briljant gespeel deur die parmantige Mille Dinese as die ma van drie kinders, is die skool se gewildste en mees gevreesde onderwyseres, omdat sy so reguit is. Sy preek vir die kinders dat sy hulle teen hulle ouers beskerm. Op haar manier voed sy hulle op en verduidelik hoe om die skool te oorleef. Maar, o wee, haar persoonlike lewe en die opvoeding van haar eie spruite laat veel te wense oor. Dis morsiger as roereier.

Elke episode is eenvoudig en maklik om te volg, maar gepak met onortodokse  karakters en smulpaapstories. Daar is tonele, veral in seksuele verband, wat kan skok!