Road House

Road House

Hierdie gewelddadige, byderwetse lekkerbek-mannekamp-fliek gaan oor ‘n uitsmyter wat ‘n restaurant/ kroeg/kuierplek in Florida moet beskerm teen die Mafia. Maar soos altyd het hy iemand doodgeboks, en weier om weer sy vuiste te lig. Tot sy humeur strip en die koelkoos ‘n warmpatat word. Dit word ligsinnig bedoel, omdat jy nie ‘n raampie van die smulpaap-geweld ernstig kan opvat nie. Dis ‘n skiet-skop-en-doodbloei-fliek waar manne gereeld verinneweer word, net om hulle vere weer reg te skud, die messe uit hulle sespakke te trek en soos Lazarus te herrys om weer neuse skeef te moker.

Dis ‘n nuwe weergawe van Patrick Swayze se 1989-fliek, sonder die sprankel of vaartbelynde styl. Hier kyk jy hoe ouens, só macho jy kan met hulle stootskraap, mekaar opdons, koel kwinkslae kwytraak en skeef grynslag sonder om ‘n tand te verloor. Dis morsige macho-vermaak slegs as jy van gewelddadige gruwels met ‘n dun storie hou. Indien nie, kies ‘n ander padkafee vir jou Dagwood-vermaak.