Scoop

Scoop

SCOOP op Netflix sal veral joernaliste en nuusvrate se aandag trek. Dit gaan nie net oor die berugte onderhoud met prins Andrew oor sy vriendskap met die molesteerder Jeffrey Epstein nie, maar oor wat agter die skerms gebeur het. Sommige joernaliste sal verstaan hoe moeilik dit is om ‘n warm nuusstorie eerste te kry, en hoeveel werk en politiekery agter die skerms plaasvind om mense te kry om in te stem tot ‘n onderhoud.

In die BBC se geval het die korporasie katvoet rondom die koninklikes beweeg. Die koningin moes alles goedkeur. Sy, en Prins Andrew se personeel, sou nie maklik tot ‘n TV-onderhoud op Newsnight instem nie, veral nie as joernaliste vir Andrew vra om sy vriendskap met Jeffrey Epstein te verduidelik nie, nadat Andrew van seks met ‘n 17-jarige meisie beskuldig is na aanleiding van ‘n foto waar hy hand om haar ontblote middellyf staan.

SCOOP wys hoe ‘n onverskrokke joernalis, Sam McAllister, daarin geslaag het om die onderhoud te inisieer. Sy was braaf genoeg om die paleis te oortuig dat die gesprek noodsaaklik is. Wat hierna gevolg het, weet almal. Maar die reeks gaan veral oor joernaliste wat nooit erkenning kry vir die werk wat hulle agter die skerms doen nie – wat agter die kameras gebeur en hoe die vrae bewoord word.