Shrinking (Reeks / Apple TV+)

Shrinking (Reeks / Apple TV+)

Wees maar versigtig om sommer enigiemand as jou sielkundige, of “shrink”, om die reeks SHRINKING se taal te gebruik, te vertrou, want in dié reeks het die sielkundige (Jason Segel) eintlik sielkundige behandeling nodig. Hy luister nie altyd aandagtig nie, en soms gee hy sy pasiënte buitengewoon gewaagde raad. Soos om hulle woede te gaan uitboks, of vir ‘n vrou te beveel om haar man, wat haar mishandel, NOU te los. Hy betaal duur daarvoor.

Voeg hierby Harrison Ford as ‘n mentorfiguur wat hom raad gee, en eintlik teen homself probeer beskerm, en jy het ‘n donker komedie oor wat verkeerd kan loop as jy die definisie van jou werk te sterk ter harte neem. ‘n Sielkundige moet mos sy of haar kliënte nugter en kalm benader. Want dikwels lei die mense reeds aan angsversteurings. Jy moet dit nie vererger nie!

Verwag dus ‘n lekker gespot met die sielkunde beroep wat ‘n mens opnuut laat besef hoe ‘n verantwoordelike roeping dit eintlik is. Die reeks dryf liggies die spot daarmee, en kyk na die gevolge van verkeerde raad, hoe goed ookal bedoel.