SIN CITY

SIN CITY is die koelste fliek van die jaar. En nee, Sin city is nie waar jy 20 jaar gelede gaan dobbel het toe dobbel nog onwettig in S.A. was nie. Dis ‘n moderne Film Noir fliek. Het die arme man ‘n woordeboek ingesluk en nou KOU hy sy letters, vra julle seker. Film Noir is ‘n genre wat veral in die jare 40 baie gewild was. Dit gaan oor hardgebakte speurders wat deur listige blondines verlei word en na hul ondergang gedryf word terwyl rook lui in die lug hang en waaiers die hitte probeer verdryf. SIN CITY is dus styl en houding… met min storie. En die storie wat daar is, maak nie eintlik sin nie, soos dit in Film Noir hoort. SIN CITY is in wit en swart gemaak. Maar dan doen die regisseur, (Frank Miller het die fliek saam met Robert Rodriguez en Quentin Tarantino geregisseer) iets interessant. Hy voeg kolle kleur by die wit en swart prentjies. En dit gee aan SIN CITY ‘n eksotiese voorkoms. Dis inderdaad die mees oorspronklike fliek van die jaar wat met jou brein smokkel. As jy lus is vir iets anders, vir avontuur, vir ‘n donker fliek wat jou tone sal kielie van flieklekkerkry, is SIN CITY met Bruce Willis, Clive Owen, Brittany Murphy en Elijah Wood vir jou. Glo my, nes KUNG FU HUSTLE het jy nog nooit in jou lewe so iets gesien nie. Dis NET vir mense wat graag tuimelspring of hul rugsakke pak en die wildernis invaar sonder om te weet watter gevare wag. SIN CITY is ‘n vierwielaangedrewe fliek oor rowwe terrain as jy ‘n hardebaard flieker is. Seks en geweld kan ontstel. ‘n Prag-kunsrolprent begin vandag. En die manne wat na THE PERFECT CATCH gaan kyk hoef nie hul neuse op te trek en te sê: ja, jong, seker weer een van daai iefie-fiefie-flieks wat met babapoeier besprinkel is. O nee, swear. INNOCENT VOICES sal selfs die taaiste manlike hart aan flarde ruk. En sal, nes Dricky Beukes se DIE INDRINGER van destyds, elke moederhart roer. Maar moenie die verkeerde indruk kry nie! Dis nie ‘n sentimentele melodrama vol snesies en trane nie. Dis ‘n ongelooflike mooi storie wat die mat onder jou voete sal uitruk. Dus selfs die manne kan hulle Gary Player-groos-sakdoeke saamneem.