SISTERHOOD OF THE TRAVELING PANTS

Praat van vreemde titels. Hierdie een heet SISTERHOOD OF THE TRAVELING PANTS en het niks met sexy meisies te doen wat duimgooi nie. Dit gaan oor 4 beste vriendinne wat eendag op ‘n paar tower-jeans afkom. Dié jeans pas al vier. Nou kyk, as jy op ‘n kledingstuk afkom waarvan alle vroue hou, laat staan een wat almal pas, moet jy gryp en dra suster, wat jy kry dit nie sommer weer nie!

Vroue wat THE DIVINE SECRETS OF THE YA-YA SISTERHOOD gesien en geniet het, mag vreugde put uit hierdie rolprent met ‘n ewe lang en amper onverstaanbare titel. Ja dames, dis een van daardie: gryp-‘n-vriendin-en-sit-af-fliek-toe terwyl die manne rugby kyk moewies. Die 4 meisies loop elk hul eie pad en die rolprent volg hulle en kyk wat met elkeen gebeur. Hulle leer om groot te word op die gewone fliekmanier. Romanse wat skeefloop, vriendskap wat getroef word, mooi, eksotiese agtergronde waarteen dramas hulle afspeel… julle ken die storie. Jy kan ook wag dat SISTERHOOD OF THE TRAVELING PANTS op video of DVD verskyn.