Stonehouse (Reeks)

Stonehouse (Reeks)

STONEHOUSE op Britbox se opsomming is bedrieglik eenvoudig. ‘n Britse politikus, John Stonehouse, gee voor dat hy dood is. Die kinkel in die kabel is: daar is ‘n politieke magspel agter die skerms, en hy kan ‘n regering maak of breek, want dit is verkiesingstyd, en die twee opposisiepartye, waaronder die Arbeidersparty, loop kop aan kop. Die eerste minister Harold Wilson wil herverkies word, maar kort één stem. En daardie stem is John Stonehouse s’n. Maar hy is ‘n skelm skarminkel van die eerste water, en kort voor lank het John vir Harold aan die korthare beet. En dis seer! Hierdie is ‘n gedramatiseerde weergawe van wat werklik in 1974 gebeur het. Want midde-in die verkiesingstryd, los Stonehouse ‘n stapeltjie klere op die strand, en verdwyn in die see. Is hy regtig dood? Natuurlik nie, maar wat hierdie desperate lomperd agter die skerms aanvang, is so vergesog, ‘n mens kan dit beswaarlik glo. Politiek is ‘n gemene vuilspel, en Matthew Macfadyen as Stonehouse voer dit na die uiterste. Dis snaaks en verstommend en vergesog, maar waar! STONEHOUSE sal jou laat skaterlag, veral wanneer Tseggo-Slowakye in gedrang kom.