SYRIANA

Vir die ernstige fliekganger is daar SYRIANA, ‘n rolprent waar jy jou kop bymekaar moet hou en elke breinsel moet inspan om jou te help verstaan. Die storie is te ingewikkeld om in ‘n paar sinne op te som. Weet net dit gaan oor Amerika se gierigheid na olie en die politieke magspel wat daarmee saamgaan. George Clooney speel die hoofrol. SYRIANA is ‘n taai, intelligente en veeleisende fliek. Dus, jy sal nie sommer daar inval as jy net na George Clooney wil staar nie. Hy’t ‘n boep ontwikkel vir die rol, dus is daar min sprake van lekkergoed vir die oë.

Dis ‘n woordryke, intelligente en ontstellende rolprent waar alles in die subteks gebeur. Dit gaan om politiekery, oor omkopery, ‘n magspel en korrupsie. Die fliek sê ook daar is niks wat die Amerikaners nie sal doen om hul olievelde te verseker nie. SYRIANA, vir die gesofistikeerde fliekganger wat na intelligente vermaak soek wat NET soveel vereis as wat dit gee.