TEAM AMERICA

Hierdie rolprent het net waarskuwings. Dit heet TEAM AMERICA, en as die plakkaat jou laat dink aan THUNDERBIRDS is jy gruwelik verkeerd. Dis een van die mees vulgêre en aanstootlike rolprente nog. Dis ‘n satire op die Amerikaanse lewenswyse, en spot met mense wat vigs het, stuur diegene wat hul lewens by die Twin Towers-ramp verloor het op en lag hul mae seer vir ander tragedies. Ek is dalk outyds, maar daar is sekere dinge waarmee ‘n mens nie spot nie, en TEAM AMERICA was vir my skokkend, aanstootlik, onnodig, sinneloos, moedswillig en niksseggend. Noudat die rolprentspan klaar gelag het, wil mens die teater met lugverfrisser bykom. Ek waarsku baie sterk teen TEAM AMERICA – daar is iets wat almal liederlik die joos in kan maak. Bly liewer ver weg tensy jy van gruwelike donker humor hou. Daar is ook ‘n baie berugte sekstoneel met marionette wat selfs die Amerikaners hokaai laat skreeu het. Jy is gewaarsku oor TEAM AMERICA.