THE AVIATOR

Die groot fliek van die week is Martin Scorsese se meesterstuk: THE AVIATOR. Alweer een van daai geliefkoosde resensentwoorde: meesterstuk. Maar kyk: Martin Scorsese is Amerika se grootste regisseur. Hy vertel die komplekse verhaal van die eksentrieke Howard Hughes op kleurvolle, dramatiese en aangrypende wyse. ‘n Mens kan nie glo dat dit ‘n ware verhaal is nie. Hy het 7 lewens in een leeftyd geleef. THE AVIATOR gaan oor die miljardêr Howard Hughes wat die lugvaartbedryf omver gewerp het met sy geniale skeppings, wat Hollywood oorweldig het, wat die rykste man ter wêreld geword het en wat as ‘n brandarm straatmens gesterf het terwyl sy biljoene in die bank gelê het. Leonardo DiCaprio bewys dat hy ‘n akteur van formaat is as Hughes – ‘n rol waarvoor hy ‘n Golden Globe gewen het. Dis ‘n oorweldigende 3 uur lange-skouspel wat sy R36 werd is. Moenie wag vir DVD nie, jy moet veral die lugvaarttonele op die silwerdoek sien om te waardeer. Jy’s nie ‘n oomblik verveeld nie, en anders as Oliver Stone met Alexander bly Scorsese altyd in beheer van sy groter as die lewe self-karakters en raak die grootse tonele nooit buite beheer nie. THE AVIATOR is die week se beste fliek met 9 uit 10. Dit sal jou terugneem na die goeie ou dae van oorweldigende eposse wat aan die siel van hul karakters raak. Gaan kyk.