THE BOURNE SUPREMACY

Daar open net een lokettreffer vandag: THE BOURNE SUPREMACY. As ek kyk na die vooruitbesprekings… gaan hy die grootste treffer van die jaar wees. Jy hoor dis ‘n aksiefliek en sê: o nee, ek sien genoeg geweld op die nuus elke aand, ek wil net ontspan! Glo my: THE BOURNE SUPREMACY is beslis die beste aksieprent van die jaar wat 8 uit 10 kry sonder dat daar te veel bloed spat! Jy kan nie vir beter vermaak soek nie. Arme Jason Bourne, knap gespeel deur die denkende vrou se sekssimbool, Matt Damon, ly steeds aan geheueverlies. Die stomme man kry nie rus vir sy siel nie. Hy word alweer gejag. Dié slag deur die FBI met Joan Allen se skerp oë wat nie ‘n beweging mis nie. Dis moeilik om oor die verruklike aksieprent te praat en nie die beste oomblikke te verklap nie. Weet net, dit het een van die top 3 beste motorjaagtoge in die geskiedenis van flieks na RONIN en TO LIVE AND DIE IN LA. En kan ek vir julle sê: nà die jaagtog het die gehoor letterlik op die punte van hul stoele gesit. Ek het omgekyk en die mense het omtrent opgestaan so meegevoer was hulle. Daarom, as jy opwinding soek, is daar nie ‘n beter fliek as THE BOURNE SUPREMACY nie. Jy berei voor vir die eksamen? Nou ja, pel. Pleit by ma en ma om jou… al is dit net vanaand… te laat gaan. Dit sal jou breinpitte losskud en jou intelligensie ‘n paar knope laat styg! Dis die soort aksieprent waar karakterisering ook tel… met ander woorde, dis nie net skiet-skop-en doodbloei nie. Daar’s substansie in die tonele. Genoeg lof. THE BOURNE SUPREMACY sal jou verby by die hoogste pieke van fliekopwinding vat. Jy kan nie ‘n beter pretparkrit kry nie!