THE CAVE

Die muishond van die week is THE CAVE. Dit lê al maande lank op die rak. Die fliek is so oud dat ek dit onlangs op ‘n internasionale vlug as deel van hul invlug-vermaak gesien het. Die rede vir die terughou? Omdat die verspreiders dalk self daarvoor geskrik het. En ek bedoel nie vir die monsters en die opgelaaide spanning nie! Omdat dit so SWAK is! Dit gaan weer oor daardie eeu-oue storie van die mens wat in die natuur inmeng. ‘n Groep duikers betrek ‘n onderwatergrot en kom op ‘n vieslike monster af wat al eeue lank daar skuil. Nie almal oorleef om die gedierte te beskryf nie. Die rolprent is so donker, jy het ‘n flits EN ‘n lantern nodig om daarna te kyk. En ek glo nie mense wat onlangs met kragonderbrekings geworstel het, wil betaal om na donkerte te kyk nie. My oë was later seer van die spanning op my pupille om uit te maak wat aangaan. THE CAVE is ‘n goedkoop en irriterende poging tot ‘n riller.