The Chelsea Detective (Reeks / Britbox)

The Chelsea Detective (Reeks / Britbox)

Dis nou maar een ding van Britbox. Dit stel jou bloot aan alles waarmee die Britse televisiebedryf so goed is: speurreekse. THE CHELSEA DETECTIVE werk weer met die gewaardeerde suksesresep. ‘n Onpaar-paar, of odd couple, wat moordsake oplos en die skurke telkens laat les opsê, raak by ‘n saak betrokke. In dié geval kom ‘n gemmerkop eksentrieke genie en ‘n beeldskone swartkop vroue polisieoffisier bymekaar om saam te span om moorde op te los.

Die twee verstaan mekaar en vorm ‘n gedugte span. Hulle pluis selfs die mees verwikkelde sake tjop-tjop uit. Elke twee episodes bestaan uit een avontuur, dus word een saak nie tot die uiterste gerek nie. Daar is kort-kort nuwe leidrade en opspraakwekkende sake met slim moordenaars wat die twee besig hou. En die stories beweeg vinnig.

Sommer net lus om lekker gemaklik TV te kyk? Dan sal THE CHELSEA DETECTIVE van jou ‘n tevrede leunstoelspeurder maak.