THE COMEY RULE (Minireeks)

THE COMEY RULE (Minireeks)

Ek sou James Comey nie Trump se vriend noem nie. Hy was hoof van die Amerikaanse speurdiens, die FBI, en sy enigste leuse was om regverdig op te tree en die mense van Amerika te beskerm. In die middel van Comey se dekade lange kontrak, nooi Trump hom vir ‘n private ete in die Withuis. Hierna besef Comey: sy doppie het geklap. Nie alleen moet hy na ‘n klomp snert luister nie, hy is ook summier ontslaan sonder dat hy enigiets verkeerd gedoen het.

Brendan Gleeson is briljant as Donald Trump, en ‘n mens vergaap jou aan wat alles agter die mure van die Withuis gebeur het. Soms het dit gevoel asof jy die paar varkies, wat sekere individue verloor het, op hok wil sit. Maar Trump het hom nie laat stuit nie. THE COMEY RULE is ‘n gedramatiseerde weergawe van die gebeure tydens James Comey se diens tot Trump aan bewind gekom het. Dit was dan hoeka ook Comey wat verantwoordelik was vir die ondersoek na, en bekendmaking van die wyse waarop Hilary Clinton haar amptlike e-pos gebruik het. Hy was op die punt om die moontlike Russiese inmenging in die verkiesing te ondersoek, toe hy die trekpas kry. Comey was dus indirek daarvoor verantwoordelik dat Trump aan bewind gekom het.

THE COMEY RULE op Showmax mag vir jou na ‘n stug politieke drama lyk, maar dis ver van die waarheid. Jy is onthuts, verstom, lag partykeer, maar is dikwels verbysterd en selfs verleë.